Ons bring hulde, Terre’Blanche - Piet Rudolph PDF Afdruk E-pos
Dinsdag, 29 Maart 2011 20:59

 

Ons bring hulde

Eugene Ney Terre’Blanche
31 JAN 1944 - 3 APRIL 2010

‘n Jaar is al haas verby sedert die tragiese dood van hierdie Boerepatriot. So onver­wags en so hartverskeurend. Inderdaad het sy son ondergegaan terwyl dit dag was. Daar is soveel wat hy vir die Boerevolk en die witman in hierdie land kon en wou doen maar dit was hom nie beskore nie. Sy dood kon ook nie op ‘n meer ongepaste tyd vir die Boere­vryheid­stryd gekom het nie. In ons gemoed en ons harte warrel die vrae steeds rond: Waarom nou?

Eugene kniel in die Laer by Bloedrivier. Ek hurk skuins agter hom. Skuins voor sit Kosie Steyl van Utrecht, Natal.
Eugene kniel in die Laer by Bloedrivier. Ek hurk skuins agter hom. Skuins voor sit Kosie Steyl van Utrecht, Natal.

BEPLANDE MOORD

In my gemoed is daar egter geen twyfel nie. Sy moord was fyn beplan en bereken om ‘n massiewe ontwrigting in ons vryheidstryd te veroorsaak, veral op die tydstip wat enigeen wat politiek kan lees en skryf, kan sien dat in Suid-Afrika daar ‘n ken­te­ring besig is om onder die witman, vorm aan te neem. Hierin staan die Boer sen­traal met sy vryheidsdrang. Ons is egter ook op gevaarlike grond en enige mis­stap­pe om uit die slawerny los te kom, kan fataal wees. Die AWB se stryd was nie die van ‘n politieke party nie. Dit was meer as dit. Wanneer omstandighede dit geverg het, was dit die AWB wat in die brandpunt gaan staan het en die hoon en die smaad verduur het. Selfs van politici wat van beter behoort te geweet het. Hy het die skares getrek en hulle het daarvan gehou om dan saam met hom op die verhoog te wees!

Die stryd vir Vryheid sal nie sonder bloedvergieting wees nie. Hierin kon Eugene Terre’Blanche ‘n belangrike rol gespeel het. Daarom moes hy uitgeskakel word en van die toneel verwyder word. Die ou tegniek van ons vyande is dat jy eerstens ge­ignoreer word; tweedens, as dit nie slaag nie, jou verdag te maak en dit waarvoor jy staan as vals voor te stel. Derdens om jou as mal voor te stel en in ‘n gestig of selfs in die tronk te kry. Slaag dit nie, dan word jy doodgemaak. Met hom het ons vyande en hulle meelopers die volle sirkel voltooi, omdat hy die vermoë gehad het om mense bymekaar te maak.

Die laaste tyd het dit egter moeilik gegaan want die negatiewe propaganda het in ‘n dikstroom teen hom geloop. Ek wonder hoeveel nagte het hy wakker gelê in sy bekommernis oor waarheen ons volk op pad is.

In daardie opsig was hy egter nie ongewapen nie. ‘n Seun van die Wes-Transvaal wat in ‘n geskiedenisbewuste huis groot geword het, het hy die gelyktes sowel as die opdraendes van stryd geken. Sy vader het die naam gedra van die Franse edel­man wat as generaal aan die Boerekant by Boshof gesneuwel het ─ De Villebois- Mariel. Oom De Ville was die kommandant van Ventersdorp en op ‘n stadium op ‘n kortlys om as senator van die Nasionale Party benoem te word. Eugene se tweede naam was dié van Napoleon se generaal, Ney. Die Terre’Blanche-familie het die ge­skiedenis geken en klein Eugene was van kleinsaf gewoond daaraan om by volks­feeste en politieke byeenkomste voor te dra. Dikwels het hy as jong kind sy bed afgestaan vir NP-organiseerders wat by hulle oornag het. Dit het ingesluit Marais Viljoen wat later ‘n staatspresident sou word. Toe hy en Martie getroud is het hy Staatspresident CR Swart opgepas. Hy het by oom Blackie gaan toestemming vra om te trou.

Vryheidstryd

Boer en Afrikaner in hierdie gesin was sinoniem. Namate die klemverskuiwing tussen die begrippe egter begin posvat het en die vryheidsbegrip begin groei het, het ek ook gesien hoe daar vertwyfeling tussen ‘n pa en seun onstaan wat ander­­sins baie naby aan mekaar was. Oom De Ville het baie moeite gedoen om Eugene se vergaderings by te woon.

Ons politieke loopbane het op dieselfde datum in Januarie 1970 begin. Ons was albei polisiemanne. Hy was by die Staatspresident se wageenheid in Pretoria en ek by die speurdiens op Welkom. Ons het by die kandidate­konferensie van die HNP in Pretoria ontmoet waar ons as kandidate voorgestel is. Hy was die palementêre kandidaat vir Heidelberg en ek vir Virginia in die Vrystaat.

Op die konferensie het hy vir John Vorster nagemaak en met sy pragtige stem onmiddelik die oog gevang. Hy sou later op die konferensie ‘n gedig oor die kon­sentrasiekampe voordra en ek het ‘n pleidooi gelewer dat Afrikaans die enigste amptelike taal moet wees en daar nie eers melding gemaak moet word van Engels as die tweede taal nie. Op daardie konferensie is ons jarelange vriendskap en ver­bon­denheid aan die Boerevolk gebore, alhoewel ons tevrede was om nog Afri­kaners genoem te word binne politieke verband. Die oorgawe-politiek van Vorster en die NP het vorm begin aanneem maar was nog nie vir almal ewe dui­delik nie. Die HNP was nie ‘n bevrydingsbeweging nie, maar ‘n weerstandige politieke party wat binne die bestaande politieke opset, die NP uit die kussings wou lig. Die be­staande republiek van Dr Verwoerd het ons almal nog tevrede gestel. Gekant teen die politiek van John Vorster, was daar egter nog nie die gevoel dat ons sou vor­der tot waar ons vandag sit nie. Daarom was die insig waaruit die AWB voortgevloei het vir my steeds een van geroepenheid om soos wat mnr Jaap Marais dikwels gesê het, “die onsiende te sien.”

Stigting van die AWB

Die stigting van die AWB in 1973 het voortgevloei uit die politieke omstandigheid van daardie tyd en getuig van Eugene se versiendheid. Na ‘n hele reeks tussen­ver­kiesings ─ ons was albei party-organiseerders ─ het dit duidelik geword dat ons langs die konstitusionele weg alleen, nie die aanslag gaan stop nie en meer as net kruisies maak, nodig gaan wees. Eugene was op die voorpunt: Die eerste besit van wapens ;die opskeur van die petisielyste van ‘n linkse aktrise om integrasie te bevorder; die ontwrigting van ‘n opvoering van The Black Mikado by ‘n Roomse Skool; die teer en veer van prof Floors van Jaarsveld oor sy siening oor Geloftedag; die Dakar-gangers wat met die ANC samesprekings gaan voer het en sommige politici onder hulle, nie eers kans gesien het om die aankomssaal by die lughawe binne te gaan nie; die bestorming van die Handelsentrum by Kempton Park; die Slag van Ventersdorp en Mmbatho ens.

DIE AWB OF BLANKE VOLKSTAATPARTY

So ‘n geween en gekners van tande het onder regse politici uitgebreek met die stig­ting van die Blanke Volkstaatparty asof dit hulle beperkte magsbasis kon wegkalwe. Die AWB as organisasie het nooit aan ‘n verkiesing deelgeneem nie. Die doel van die stigting was strykdeur verduidelik dat die AWB soos ‘n party maar nie as ‘n party sal opereer nie. Die rasionaal daaragter was dat die AWB met die teer en veer ge­vaar geloop het om in die ban gedoen te word en daarom is dit geregistreer as Die AWB of Blanke Volkstaatparty.

Ook onder die NP en sy instrumente was daar ‘n beroering. Ons het van kontakte binne die Veiligheidspolisie verneem dat daar ‘n spesiale memorandum deur hulle vir die regering opgestel is. ‘n Mens kan maar net raai, maar ek glo verbanning is geopper.

Die pad vorentoe

Die stryd van die AWB is nog nie afgeloop nie. Hier kom ‘n bloedige oorlog teen die Witman maar veral die Boerevolk. Ons vyande wou ons nog altyd uitwis. Van Slag­tersnek verby Alfred Milner tot vandag by die kommunistiese ANC en sy meelopers. Eugene Terre’Blanche se bedoeling was dat sy beweging die wagter op Sionsmure sal wees. Of dit so sal wees moet nog gesien word. As die Boere-vryheidstryd as on­sterflike ideaal laat vaar word of afgewater word, sal alles kwyn en uiteindelik sterf. Behalwe die Magte van Bo is hier niks anders wat ons staande sal hou nie, behalwe daardie onsterflike ideaal en besieling van Boerenasionalisme waarvan Eugene Ney Terre’Blanche, die vurige draer was.

Rus sag kameraad!
Eugene Ney Terre'Blanche
Opgestel en uitgegee deur Piet Rudolph namens die Aksiekomitee, Orde Boerevolk.
E-pos: piet.rudolph@gmail.com


Besoek gerus Orde Boerevolk se Webblad by:
https://sites.google.com/site/ordeboerevolk/