Geloftedag 2011 - Boere-Republikeine PDF Afdruk E-pos
Donderdag, 01 Desember 2011 21:27

GELOFTEDAG - 2011

Hierdie jaar snel ten einde. En watter gebeurtenisvolle jaar was dit nie. Tyd en ruimte laat nie toe dat ons indringend dit kan ontleed nie, maar vir elke vaderlander moet dit duidelik wees - die Witman in Suid-Afrika boer agteruit!

As ons egter die gordyn van die verlede terugskuif, moet ons onwillekeurig stilstaan by die begin van Desember 1838. Ons voorsate, die Voortrekkers, is vasgevang in haglike omstandighede, vermoënde mense het verarm; omtrent leierloos, was die vooruitsigte vir 'n vreedsame tuiste omtrent nul. Menslikerwys het hulle die einde in die gesig gestaar. Piet Retief en sy manne is op verraderlike wyse vermoor. Sommige van die Voortrekkers wou weer oor die berge, terug na die vleispotte van "Egipte."

Al daardie omstandighede van 1838, is vandag ook teenwordig in ons volkslewe. Dit is 173 jaar gelede - behalwe vir een ligstraal - ons het 'n Gelofte waaraan ons kan vasklou.

Die Voortrekkers was oppad na Dingaan. Hulle wou hom straf, die Gelofte het gekom as tweede gedagte toe hulle eers die omvang van hulle nood besef het.  

Soos Moses van ouds het die Almagtige vir die Boerevolk in wording, Andries Pretorius en Sarel Cilliers aangewys vir die deurtog van die Rooisee na die rivier van Bloed. Uit daardie Gelofte het voortgevloei twee Boere-Republieke. Die jaar 1877 sou egter nie verbygaan sonder ‘n Britse anneksasie van Transvaal nie.  Op 16 Desember 1880 sou die Boerevolk van Transvaal  weereens by ‘n verinniging van die Gelofte van  1838 staan, smekend om uitkoms. Op die smeekgebede het Majubaberg gevolg. Ons Gelofte en ons smeekbede is weer verhoor.

Dit het tyd geword vir die hergeboorte van die Gelofte en die volle oorgawe, nie aan Farao nie maar aan Hom wat hemele en aardes gemaak het. Vorentoe en Boontoe.

Staan ons vir 'n oomblik stil by die walaers en die klippe, hoor ons die stem van nood en smeek ons saam:

Uit dieptes gans verlore, van redding ver vandaan,
waar hoop se laaste spore, in wanhoop my vergaan;
uit diep van donker nagte, roep ek, o JaHWeH, hoor,
en laat my jammerklagte tog opklim in U oor.

Hoop Jisr’el, in jou klagte; vertrou, o volk, wat treur,

Sy guns verduur die nagte, Sy dag breek eind’lik deur.
Dan skyn ‘n soete vrede, gans Jisrael word vry
van ongeregtighede, JaHH doen ook so aan my!


Daar is steeds hoop. Alles is nie verlore nie. Vir ons die Boerevolk, is daar die wete dat ons vasstaan op die fondament van die verlede; dat ons ‘n lewende, Almagtige God het wat ons in die verlede uitkoms gegee het.

Hy sal weer. So seker soos die son môre weer sal skyn!

Uit die asse van oorgawe, vernedering en verraad, breek die suiwerste en skoonste daeraad. ‘n Toekoms vir ons kinders.

Ons moet net die knieg buig; ons afhanklikheid betuig en ons brose verganklikheid in Sy reddende hande  plaas. Die Gelofte van Bloedrivier het ons deurgedra. Ook in 1880. Dit sal ons weer deurdra as ons ernstig is met ons Vryheid en die verantwoordelikheid wat op ons as Boerevolk rus.

Uit die Groot-trek is ‘n nuwe volk gebore. Ons tweede trek het aangebreek. ‘n Geestelike trek na ‘n nuwe herrysenis van ons volk in ons eie vaderland. Help ons daarheen!!

1 Desember 2011
Skets voortrekkervrou
Opgestel en uitgegee deur Piet Rudolph, Aksiekomitee Orde Boerevolk, vir en namens die Boere-Republikeine.
E-pos: piet.rudolph@gmail.com
Facebook: Boere-Republikeine