Die valsheid van die HNP en sy mondstuk. Die Afrikaner - Piet Rudolph PDF Afdruk E-pos
Woensdag, 15 Februarie 2012 10:48

Die valsheid van die HNP en sy mondstuk - Die Afrikaner

Andries BreytenbachBenoude katte maak benoude spronge. Nêrens pas hierdie spreekwoord beter as by die HNP en sy mondstuk nie. Hierdie party en sy mondstuk wil hom graag voorhou as die bruid op die troue en die lyk op die begrafnis en dan nog die ouer suster wat almal tereg kan wys sonder om die splinter uit haar eie oog te verwyder.

Hierdie party wat agter die VVK sit en met ‘n netjiese slenterslag sy doelwitte geskuif het van geen onderhandeling met die ANC en geen verkiesings nie, sit nou met sy leier in beheer van ‘n groepie serpdraers wat hulleself ‘n Volkskomitee noem en kastig namens die “Afrikaner-Boerevolk (bid jou dit aan!) met die ANC wil gaan onderhandel vir Vryheid, sonder om te sê, waar hierdie Utopia tot stand gaan kom en namens wie hulle onderhandel met minder as 30 000 stemme. Dit te midde van ‘n inhoudlose kreet van “Hierdie land, is ons land!”

Nou het ousus ‘n nuwe rok aangetrek. Dié van die groot berisper van waar die enge weg sou lê. In die Afrikaner van 20-26 Junie 2012, skryf die redakteur: “Eendrag maak Mag”. Hierdie ou wysheid van die Zuid-Afrikaanse Republiek is natuurlik tydloos en van toepassing selfs waar wêreldomstandighede verander. Dit beteken egter nie dat ons nie verskille mag hê, en dit beteken ook nie dat ter wille van daardie begeerlike eendrag, enige flater of dwaling maar geïgnoreer moet word nie. UIteindelik sal die doeltreffendste eendrag slegs bereik kan word rondom vaste beginsels.

“Die Afrikaner herhaal sy onomwonde stelling van die verlede: ons staan op die beginsels van Afrikanernasionalisme - en wag daarvoor - en Boerskap!...” Komende van ‘n groep mense wat eerder regagteroor sal slaan as om die woord Boer in hulle monde te neem. ‘n Mens kan maar net vra, vanwaar die verknogtheid aan die Boer? Die antwoord is eenvoudig, om by die clichés van die VVK te pas!

Na ‘n relaas oor die betrokkenheid van Afriforum en Solidariteit by Radio Pretoria, gaan ousus ver-der met haar sedeprekieoor Radio Pretoria se gebrek aan die omarming van die vryheidstryd.

“Ons moet meer nougeset kyk na ons woorde, terme en begrippe wat ons gebruik want elke woord het betekenis. (As die HNP tog maar daarvan gebruik sal maak!) Ons moet die politieke opportunisme maar laat staan en eerder betrokke raak by die vryheidstryd, wat ‘n moeilike, harde en kompromielose stryd is. En laat die skoenmaker by sy lees bly. Ons wil nie graag sien dat ons geliefde volksuitsaaier homself in onstuimige waters gaan begeef met uitsprake soos dié nie, terwyl sy nering is om uit te saai en ander se doen en late, veral waar dit vryheidsake betref, onbevange te rapporteer. En dalk moet ‘n vakbond dit doen waarmee hy uitstekend is: arbeidsake. Laat die politici met ‘n rekord van betroubaarheid, vaste beginsels (?) en doelgerigtheid eerder die vryheidsoplossings soek”. Tot sover die skynheiligheid van die HNP. Dit het hoog tyd geword dat iemand dit vir hierdie mense sê: Vir hulle gaan dit nie oor vaste beginsels nie, want dan sou hulle die vryheidstryd van die Boerevolk verstaan het. Vir hulle gaan dit oor die enigste haan op al die ashope.

Radio Pretoria is lankal die kluts kwyt. Hy byt nog vas om geld uit die volk te kry vir ‘n paar possies vir baantjies vir boeties!

Net so min ‘n volksuitsaaier as wat RSG dit is. Dit is nie nodig om na vryheidsoplossings te soek nie. Daar is ‘n oplossing, dit moet net toegepas word.

Opgestel en uitgegee deur Piet Rudolph namens die aksiekomitee Orde Boerevolk.
E-pos: piet.rudolph@gmail.com