Boeremag-lokval - Piet Rudolph PDF Afdruk E-pos
Vrydag, 12 Oktober 2012 15:13

'Boeremag-lokval'
'Polisie-spioene se komplot onthul'
'Duurste verhoor moet dalk oor begin' - Rapport, 7 Oktober, 2012

Rapport 7 Oktober 2012: Boeremag-lokval

So is met skreeuende baniere op die voorblad van Rapport, iets aangekondig wat baie van ons lankal reeds vermoed. Dit is kensketsend van hoe daar met die waarheid omgegaan word en hoe daardie waarheid verbuig word om ons vyande te pas. Die lewens van twintig patriotte is byna verwoes deur hulle vir tien lange jare aan te hou. Baie se gesinslewe het tot niet gegaan.

Die mees insiggewende is dat Rapport wat geen vriend van die regses (soos ons snedig genoem word) ooit was nie, dit op die voorblad plaas. Die artikel is geskryf deur een van die mees linkse joernaliste, kornuit van ‘n nog linkser Max du Preez, albei uit die stal van die destydse rooi Vrye Weekblad. Die linkse Paauw het eweneens nog nooit ’n goeie woordjie vir konserwatiewes gehad nie, alhoewel ek my haas om te erken dat hy sekerlik ‘n gebalanseerde gevoel vir regverdigheid het.

Die berig handel oor die werwer en voormalige hanteerder van die polisie - informant, J.C. Smit wat op die AWB spioeneer het. Hy het later die hoof staatsgetuie in die Boeremag-saak geword, ‘n naam wat hy in sy getuienis aan die saak gegee het. Die gebruik van ’n informant en agent provocateur, moes al ‘’n aanduiding gewees het van iets hoogs buitengewoon. Die berig in Rapport lui dat “Polisie-spioene het glo bewyse geplant, Boeremaglede uitgelok en aangehits om misdrywe te pleeg.” Smit was ‘n swak getuie in die hof. Hy het erken dat hy by ‘n vergadering in ‘n tabakskuur in Bethlehem vir die aanwesiges vertel het dat hy in die 1994-opstand, die meeste bomme geplant het. Toe hy daaroor in die verhoor onder kruisverhoor geneem is, het hy gesê dat hy dit gedoen het om die vertroue van die aanwesiges te wen.

Hy het in sy eie getuienis selfs plofstof by hom gehad met die goedkeuring van die polisie en was aktief betrokke by die gebruik van plofstof by Warmbad. In sy getuienis is hy deur die senior staatsadvokaat gehelp met leidende vrae wanneer hy vasgehaak het. Telkemale moes die verdediging daaroor beswaar aanteken.

Sy getuienis, wanneer hy oor ‘n gebeurtenis uitgevra word en iemand iets gesê of gedoen en hy so ‘n persoon moes uitwys, het hy amper sonder uitsondering op die vraag wie dit is, geantwoord: dit sal so en so wees. Nie op een van die vrae het hy gesê , dit is so en so nie. Hy was ontwykend, het datums en gebeure verwar en het dikwels van die stelling; sover ek kan onthou/nie onthou nie, gebruik gemaak. Wanneer hy iets in sy verklaring nie kon onthou nie, het gesê dat sy hanteerder, supt. Louis Pretorius dit geskryf het, desnieteenstaande het die regter hom ’n geloofwaardige getuie bevind. Die polisie betaal vir inligting, hoe beter die inligting, hoe beter die geld! Daarom sal ’n mens verwag dat hierdie tipe getuienis met groot omsigtigheid behandel sal word.

Smit het langdurig getuig oor ‘n sogenaamde Dokument 12 waaroor ‘n aantal mans skuldig gevind is en wat na bewering in die besit van beskuldigde 1, Mike du Toit, sou wees. Oor die dokument skryf Rapport, “Loots (die polisiekaptein wat na bewering die verklaring afgelê het) sê hy glo nie dat al die Boeremaglede was onskuldig nie, maar dat die groep deur misdaadintelligensie se agente uitgelok is en aangehits is.”
Hy sê die berugte “Dokument 12”, wat deur die hof bestempel is as die Boeremag se meesterplan vir ’n geweldadige staatsgreep deur regses, “is op my rekenaar getik en aan geskaaf voordat dit aan die Boeremag gegee is.”

Net so opspraakwekkend is die bewering dat die polisielede - “almal wit” – wou hulle toekoms by die “nuwe bestuur” van die polisie verseker en het die Boeremag-ondersoek hiervoor gebruik.

Een van die ondersoekbeamptes, ene Tollie Vreugdenburg is om die minste te sê, ‘n opperste vark wat beskuldigdes en publiek by hierdie hofsaak baie sleg behandel met sy outoritêre optrede. Ek self is ‘n slag by die Boeremag-verhoor deur hom gearresteer en vir sewe dae aangehou. Ek is in ’n hof onskuldig bevind en moes my tot die Hoërhof wend waar skadevergoeding en kostes aan my toegestaan is - Piet Rudolph

Dirk Hannekom, Wilhelm Pretorius, Johan Pretorius, Rudi Gows, Tom Vorster, Michael du Toit - Boeregevangenes

Internasionale oproep vir die Boere-gevangenes van die “Boeremag”! (2012)