Die kern en die pit van saamstaan - Piet Rudolph PDF Afdruk E-pos
Sondag, 25 November 2012 19:11

DIE KERN EN DIE PIT VAN SAAMSTAAN

Boere-RepublikeineOngelukkig is daar 'n wanopvatting by ons mense dat net sommige van ons die waarheid in pag het en dat jy net iets vir jou volk se saak kan doen as jy lid is van 'n bepaalde groep of 'n bepaalde siening het. Ook dat iemand net die volk kan lei as hy die leier is van een of ander groep. Dit was die tragedie met die NP wat selfs so aanmatigend was, dat hulle geglo het hulle was geroepe om die blankes in hierdie land, almal as een volk, die Afrikanervolk te beskou en hulle oor die afgrond te lei!

Dit is 'n misvatting om te glo dat onder die Blankes daar net een groep bestaan, òf dit nou die Afrikanervolk, òf die Boerevolk is of selfs 'n nuutskepping soos die Afrikaner-Boerevolk. Dit is net so 'n illusie om te praat van 'n volk as jy nie 'n vaderland of grondgebied het nie. Ons het deur verraad en uitverkoping deel geword van 'n konglomeraat of 'n toevallige samevoeging van ongelyke dele, wat nou bekend is as 'n reenboognasie en word ons almal wat wit is, gedwing om Suid-Afrikaners te wees. Dit, omdat ons 'n etniese minderheid is en gedoem is tot verdrukking. Daarom loop ons met die Mandela's in ons sakke rond, as die seël op die bewys van ons knegskap,

Een groep, organisasie of instansie, gaan hierdie hopelose saak nie beredder nie. Daar is die oorkoepelende drang om vry te wees maar helaas, ook met wyduiteenlopende benaderings wat tot niks gaan kom nie.

Ons redding lê daarin om te soek na saambindende magte en kragte en faktore van eensgesindheid wat samewerking moontlik maak, sonder om enigeen in te dwing waar hy nie wil wees nie.

Op die pad na vryheid wag daar 'n lang, opdraende stryd voor ons daar gaan uitkom. Maar om daar uit te kom, moet ons verdraagsaamheid aanleer, sonder om kortpaaie te kies of om daardeur op dwaalweë te land. Daarvoor is die oefening van saamstaan, baie belangrik. Soos in 'n huwelik, is dit die eerste stap na saamwees. Piet Rudolph (25 November 2012)