Vryheidstryd - Afrikaner of Boer PDF Afdruk E-pos
Donderdag, 06 Desember 2012 23:02

AFRIKANER OF BOER- ’N INSIG OP DIE KUNSMATIGE EN OPPERVLAKKIGE VERWARRING WAT DEUR AKADEMECI GESKEP WORD.

“10.3.1 DIE BURGERS Lê DIE WAPENS NEER
Die sowat 21 000 bittereinders het hulIe wapens in die daaropvolgende aantal dae met seer harte (kyk byvoorbeeld Harm Oost: Wie is die skuldiges?), maar met behoud van hulle selfrespek, neergelê. Dit het hulle in staat gestel om die versamelplekke met
hul koppe omhoog te verlaat. G.H.L. Le May het, in sy boek British Supremacy in South Africa, 1899 - 1907, die volgende opmerking in hierdie verband gemaak: "The Boers could hold that they had remained unbeaten in the field, the spirit of Afrikaner nationalism was unbroken." Dit was hierdie gees waarmee die Boer besiel was wat verhoed het dat hy met sy hoed in sy hand voor die Engelse gaan kruip het. Ten spyte van die feit dat die Boere in groot armoede na afgebrande plase teruggekeer het wat hulle van vooraf met die uiterste inspanning leefbaar moes maak, het hulle deur harde werk en volharding langsamerhand weer op die been gekom. Nooit het hulle tot die vlak gedaal waar hulle iets by die Engelse owerheid gebedel het nie; 'n feit waarvan Ramsay MacDonald in sy aangehaalde boek met waardering gewag maak. Hierdie "agtergeblewenes" het dus, in teenstelling met ander sogenaamde agtergeblewenes wat net altyd bakhand staan om te ontvang, hulle eie pad met "die salf van eie gom" (soos Totius dit in sy gedig Vergewe en vergeet stel) met groot opoffering en volharding oopgeveg.

Ook burgers wat nie boere was nie (van wie 'n mens so maklik vergeet) het na die vrede eweneens baie swaar tye deurgemaak. C.R Kotzé gee in sy boek My Ballingskap 'n kykie daarin. In Johannesburg het hy na die oorlog verskeie van sy voormalige krygsmakkers gekry wat óf werkloos was óf 'n sukkel-bestaan gevoer het. Op navraag het so 'n werklose hom meegedeel dat wanneer hy om werk vra hy telkens toegesnou word: "Loop soek werk by jou Boere." Hy het 'n aantal van sy medeburgers wat by Elandslaagte geveg het met pik en graaf aangetref waar hulle besig was om 'n rioolsloot van naby Parkstasie na Braamfontein te grou. Een van hulle het teenoor hom opgemerk: "Kotzé, daar in die goewermentskantore, waar jy ons voor die oorlog gesien het, sit nou net Engelse. Ons taal is nie meer goed genoeg vir 'n kantoor en 'n pen nie! Ons taal pas net by 'n pik en 'n graaf."

Dit is, tans waarskynlik méér nog as ooit tevore, ons plig as ware Afrikaners om hierdie Afrikanernasionalisme (waarna Le May verwys het), wat ons voorouers in die verlede begeester het, steeds uit te bou en uit te dra, sodat dit ons in die toekoms weer 'n faktor sal maak om mee rekening te hou. As ons dit nie doen nie, sal niemand anders dit vir ons doen nie. Daar rus dus 'n dure plig op ons!”

Tot sover die aanhaling uit die boek van Pieter Möller- Vryheidstryd van die Afrikaner. Dit is jammer dat ’n anders goeie geskrif oor ons geskiedenis, bederf word deur die valse voorgee dat Afrikaner en Boer presies dieselfde is. Möller is een van die akademici wat na 1910 met die Uniewording skoon Afrikaner-behep geïndoktrineer is en dus klakkeloos met die werklike geskiedenis omgaan!

Daar kan nie ’n herlewing van enige “nasionalisme” wees voordat daar nie sindelik met die waarheid omgegaan word en die bestaan van die twee groepe, Boer en Afrikaner, ruiterlik erken word nie!

Die valse bedekking van ons Boere se geskiedenis, dat dit die stryd-geskiedenis van die Afrikaner is, is ‘n namaaksel en die grootste dwaling wat werklike eenheid in die land belemmer.

Piet Rudolph
Orde Boerevolk.
e/pos piet.rudolph@gmail.com


(Die boek, Vryheidstryd van die Afrikaner, is verkrygbaar van Bienedell Uitgewers, Pretoria.)