31 Mei 1902 - 31 Mei 2013 - Piet Rudolph PDF Afdruk E-pos
Vrydag, 31 Mei 2013 09:50

 

31 MEI 1902- 31 MEI 2013: ONS SAL ONTHOU!

Bittereinder monument - Bloemfontein

Vandag, 111 jaar gelede het die Boerevolk ons vryheid verloor. Vrouens en kinders is verkrag, vermoor en die wat oorgebly het, het verhonger uit die konsentrasiekampe gekom om terug te keer na afgebrande plase. 'n Volk verneder, verarm en byna uitgewis. Toe die oorlog verby was, is die helfte van die kinderbevolking van die twee klein Boererepubliekies uitgewis. Vandag strompel ons steeds voort as knegte, terwyl roofvoëls en maskureerders probeer om ons erfenis en geskiedenis te probeer verbuig en te verwring in die naam van Afrikanerskap.

Die Boerevolk is steeds sonder vryheid, knegte op hulle eie grond en steeds die muishonde van die wêreld. Solank ons volk weier om sy kop op te tel en steeds aangemoedig word om die ander wang te draai, sal ons in slawerny bly sit!

Nogtans is alles nie verlore nie en solank daar Boere is wat hulle veranker in hierdie grond en aan hulle geskiedenis kleef, sal ons volkie ook hierdie winter oorleef en weer nuwe bloeisels stoot. Daarom gaan ons as Boere-republikeine, Sondag, 2 Junie 2013 na Balmoral, om hulde te bring en 'n kransie te lê op die grafte van hulle wat so 'n duur prys betaal het vir die vryheid van ons volk.

Ons sal onthou!

(Piet Rudolph)