Servaas de Wet - In Memoriam (Okt 2014) PDF Afdruk E-pos
Saterdag, 01 November 2014 12:00

 

Eugene Terre'Blanche, Servaas de Wet en Jaap Marais. 1991

SERVAAS DE WET- IN MEMORIAM

Hierdie week het die eerste kommandant-generaal van die AWB, kolonel Servaas de Wet (egte rang) ontslaap. Hy was 83.

’n Paar maande gelede het hy nog op sy kleinhoewe ’n aantal huisrowers aangevat en verwilder.

Servaas sal onthou word vir sy toegewydheid aan die regse saak. Behalwe sy kommandantskap van die AWB was hy ook nog ’n Hoofbestuurslid van die HNP. Op ’n geleentheid het die HNP dringend geld gekort. Servaas het hulle te hulp gesnel deur ’n verband op sy eiendom te neem.

Ek self het op twee geleenthede in die politiek sy bemoeinis ervaar. In Februarie 1991 terwyl ek in aanhouding was en op ’n eetstaking, het die AWB en ander instansies, ’n protesvergadering op die plein gehou.Sy party was afwesig. Dit was ’n groot byeenkoms en gemoedere het hoog geloop. Servaas het daar gepraat en hy het die regering gewaarsku dat as ek op die eetstaking sou sterf, die regering maar sal moes die verantwoordelikheid aanvaar wat daarop sou volg.

Die AWB wou ’n TV-stel vir ons regse aangehoudenes by die tronk gaan aflewer. Op pad daarheen het dit begin rof raak en is oplopendes deur die polisie onder traanrook en rubberkoeëls gesteek. Oproer was aan die uitbreek. Deur Servaas se bemiddeling en leierskap is die beroering tot kalmte gebring; is die TV-stel afgelewer en gearresteerdes losgelaat. Die arme TV-stel het so deurgeloop onder die traanrook dat ons dit nag en dag moes aanlos om die traanrook uit te kry!

’n Maand later is ek vrygelaat. As dit nie vir die byeenkoms en oploop was nie, sou dit nie so vinnig gebeur het nie!
In ongeveer 2004-2006 is ek onwettig by die Boeremagverhoor gearresteer en kwaadwilliglik vir sewe dae aangehou. Servaas het my te hulp gesnel en my borg van R500 betaal. Hy het ook verskeie kere die uitgerekte hofsaak bygewoon. Met die daaropvolgende siviele saak het hy altyd geskakel om sterkte toe te wens en was net so verheug as ek toe ons die saak wen!

Nou het die afskeid aangebreek en gaan jy die ewige rus in. Ek sal jou mis Servaas. Jy was nie ’n maklike man nie maar vrees het jy nie geken nie. Jou beginsels was joune, ondebatteerbaar maar rotsvas!

Rus in vrede, kameraad.

Piet Rudolph: Boere-Republikeine

Servaas de Wet, 2013