Dr. Lets Pretorius: Boodskap vir 2015 PDF Afdruk E-pos
Donderdag, 01 Januarie 2015 00:00

 

Vanaf Boerevryheid (www.boerevryheid.co.za)

Dr Lets Pretorius

BOODSKAP 2015 AAN DIE BOEREVOLK.

Watter boodskap kan mens vir die Boerevolk in 2015 bring?

Is daar wanhoop of is daar hoop?

Is die offers gebring en die stryd gestry, verniet?

As daar hoop is en dit is sinvol, waarheen is die Boerevolk op pad?

Die bestaan van die Boerevolk word genadeloos deur die media van die dag en die liberale Afrikaner negeer en as entiteit ontken. Selfs die radiostasie wat deur die Boerevolk tot stand gebring is, vervang meedoënloos die term Boerevolk met Afrikanervolk.

Leiers van die Boerevolk is voortdurend in stryd met mekaar; op godsdienstige vlak bestaan verwarring en wantroue; gesinne dryf uitmekaar en jong mense bly openlik bymekaar. Daar word met moeite ‘n volks byeenkoms sonder onmin en verskille gereël. Die eens trotse Boer wat staan vir werklike waardes en beginsels , het amper van die lewensverhoog verdwyn.

Met reg kan gevra word of die Boerevolk werklik nog (wil) bestaan.

Ten spyte van die negatiewe, bly ek positief, dra ek ‘n boodskap van hoop oor en glo ek steeds in die toekoms van die Boerevolk. Ek en my gesin was in 1983 nog Afrikaners, wat nie die lig gesien het nie. Vandag is ons Boere. Toe BV in 2005 begin is, was die mense, wat geglo het dat hulle lede van die Boerevolk is, yl gesaai.

Hierdie situasie het intussen drasties te verander. Boeregedigte verskyn gereeld in die sosiale media. Boeremusiek (en nie Afrikanermusiek nie) word twee keer per week op die voormalige Boerestasie uitgesaai. Al meer word in ons eie taal van Boerenooiens, Boerebekkies en Boerekêrels gesing. Selfs Rolene Strauss word ‘n trotse Boerenooi genoem. Ek is daarvan oortuig dat die gees van die Boerevolk nie geblus kan word nie en dat daar vandag steeds “5000 bestaan wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie.”

Onlangs het selfopgelegde Afrikanerleiers , wat die Boerevolk se erfenis terreine, met die hulp van die ANC geld geannekseer het, by Bloedrivier “oor die brug geloop”. Die brug op sigself as simboliek, is nie vir my ‘n probleem nie: trouens, wedersydse respek, samesprekings en onderhandelinge, was en is nog altyd deel van die Boerevolk se geskiedenis en lewensfilosofie.

Die gedenkplek by Ncoma is ook nie vir my problematies nie. Dit toon ten minste dat hulle nie skaam is om Zoeloes te wees nie. Nie skaam is om hulle gevalle soldate te gedenk nie, al het hulle ‘n nederlaag gely. Nie, soos sekere Afrikaners, oor hulle verlede skaam is nie.

Ek het egter inderdaad ‘n probleem met die Afrikaners, wat nie net die Boerevolk se geskiedenis en kultuurerfenis steel nie, maar te gretig is om hul “eie” te verlaat, oor die brug te loop en met volksvreemde rites en gebruike hulle te vereenselwig.
Die oplossing is daarin geleë dat elkeen aan sy eie “kant van die rivier” bly, sy eie kultuur en waardes daar beoefen en bewaar, maar bereid sal wees om die “oorkant bewoners” halfpad op die brug te ontmoet. Daar kan en moet, weerskante van die oewer beweeg word, en soos twee treinspore parallel aan mekaar beweeg. Die dwarslêers of brûe, sorg vir die wedersydse kommunikasie, begrip en respek.

Geforseerde integrasie en samevoeging van die spore of oewers, vernietig nie alleen die brûe en dwarslêers nie, maar het tot gevolg dat die trein ontspoor of die vloed alles vernietig.

Een so ‘n dwarslêer of brug, wat vandag uiters nodig is en die voortbestaan van die Boervolk sal verseker, is ‘n Kulturele Beraad oor die Toekoms van SA. Dit kan voorlopig KuBToSA genoem word. ‘n Meer aanvaarbare akroniem kan later gevind word.

By die beraad moet daar indringend gekyk word na ‘n Federale stelsel waarin die kulturele en demografiese diversiteit van SA beslag kan vind. Dit bied waarskynlik die mees aanvaarbare oplossing vir die huidige bestel. Onontbeerlik vir die voortbestaan van die Boerevolk, is die “Boerestans” soos reeds deur oom Manie Maritz en andere aan Dr Verwoerd versoek is. Die Boerevolk sal moet aandring op ‘n snytjie van die koek en een van die Federale State sal oorwegend deur die Boerevolk beset moet word. Die Afrikaner het dan die keuse om òf ook aanspraak te maak op eie gebied òf met die Bruinmense in die Kaap te amalgameer, òf om ‘n kosmopoliet in die groter Metro gebiede te word, òf om na ‘n hartsverandering, ‘n Boer te word.

Ek wil aan elke Boer ‘n voorspoedige 2015 toewens en elkeen aanmoedig om te volhard in die strewe na Boere nasionalisme en onafhanklikheid vir die Boerevolk wat daarmee saam gaan. Begin in jou eie huis deur te sorg dat ons Boergesinne gesonde gesins- en familiebande bou, soos dit hoort. Laat elke vader sy rol as vader met waardigheid en verantwoordelikheid uitleef. Laat die moeders hulle mans voluit ondersteun en hulle kinders as opregte Boerenooiens en Boerekêrels opvoed. Kinders moet die waardes en norme wat deur hul ouers neergelê is, met trots handhaaf.
Met gesonde Boeregesinne bou ons weer ‘n gesonde en waardige Boerevolk.

Dr Johan Lets Pretorius

LEWENSLANGE ERE PRESIDENT VAN DIE BOEREVOLK VERTEENWOORDIGENDE RAAD


(Geplaas op versoek van dr. Lets Pretorius)