Genl Koos de la Rey - Piet Rudolph PDF Afdruk E-pos
Woensdag, 15 September 2010 09:50

Genl Koos de la Rey

Ons bring hulde
Genl Koos de la Rey

Generaal Jacobus (Koos) Herculaas de la Rey gebore 22 Oktober 1847 te Doorn­fontein, Winburg, OVS. Doodgeskiet deur die polisie in Langlaagte op 15 September 1914.

Gebore uit ‘n Voortekkerfamilie was De la Rey nog nie ‘n jaar oud nie toe die Slag van Boomplaats plaasgevind het en sy ouers op grond van hulle rebellie teen die Britse Majesteit, hulle grond verloor het wat deur Sir Harry Smith geannekseer is. Die De la Rey’s het na Transvaal verhuis en hulle naby Wolmaranstad gevestig.

Na die slag van Boomplaats is twee Vrystaters, Thomas Dreyer en ‘n Engels­sprekende, Michael Quigley deur die Britte gevange geneem en deur ‘n krygsraad ter dood veroordeel omdat hulle teen “haar Majesteit rebelleer het en wapens gedra het teen haar onderdane.” Dit het ‘n wrang smaak in die mond van die Vrystaters gelaat. ‘n Mens wonder net hoeveel van hierdie gebeurtenis  aan die jong De la Rey wat in daardie era gebore is, vertel is en watter uitwerking dit op hom gehad het. Hy was bekend as ‘n pasifis wat bloedverspilling gehaat het.

Op 15 September 2014 sal dit presies 96 jaar gelede wees dat hierdie Boere-edelman en patriarg in verraad en met ‘n geknoei in die konkelkamers van die Suid-Afrikaanse politiek, in ‘n straat in Langlaagte, verraderlik doodgeskiet is. ‘n Voorval wat soos ‘n ongeluk moes lyk, maar deur die jare telkens vrae laat onstaan oor wat presies gebeur het.

De la Rey was nie ten gunste van ‘n oorlog met Groot Brittanje nie. Hy was egter ‘n hartstogtelike vaderlander wat die belange van sy volk vooropgestel het.

As volksraadslid vir Lichtenburg in die ZAR het hy bekend gestaan as ‘n Progressief saam met  Piet Joubert, Louis Botha, Lukas Meyer en Schalk Burger. Hy was nie ‘n Kruger-aanhanger nie. Vandag nog steeds word sy standpunt dat hy in die Raad sou gesê het dat andere al lankal sou opgehou het om te veg dan sou hy steeds in die veld wees, gemik was teen Kruger. Dit is ‘n standpunt wat Kruger se beeld skade aandoen omdat Kruger deur ‘n Krygsraad-besluit die land uitgestuur is omdat hy baie oud was, in die hande van die Engelse kon val en dat hy beter die saak van die Boererepublieke in die buiteland kon bepleit .

Kruger was onbuigsaam in sy aandrang dat die oorlog voortgesit moes word nadat dit begin is. Sy gevleuelde woorde dat hy onder die Britse vlag gebore is, maar nie van plan was om daaronder te sterf nie, weerlê die bewering dat hy landuit gevlug het om nie te veg nie en die misvatting wat aan De la Rey gekoppel word.  De la Rey het ook gesê dat hy veg nie vir Kruger nie maar vir sy land.

Tyd en ruimte laat nie toe dat oor genl De la Rey se roemryke veldslae hier verhaal word nie. Daaroor is daar baie gesaghebbend geskryf. Genoeg om te sê dat die eerste skote van die Engelse Oorlog onder hom by Kraaipan geskiet is.

De la Rey was ‘n Botha-man en daar was werklik min wat Botha in sy oë verkeerd kon doen, Botha en Smuts daarenteen het vroeg-vroeg reeds die pad van konsiliasie of Britse paai-politiek begin volg.

Met 1914 se gebeure is een van die groot geheimenisse van die Vrede Van Vereeniging in 1902 opgeklaar, naamlik waaroor genl De Wet wat vurig teen oorgawe gekant was en ‘n groot aanhang gehad het, tog uiteindelik die Vredesverdrag onderteken het.

Dit blyk dat Louis Botha vir De la Rey en De Wet oorgehaal het om die Vrede te onderteken maar sodra daar weer ‘n oorlog kom waarin Engeland betrokke is, die Boere wapen sal opneem en hulle die Vryheid sal terugneem. Uit die notules van die samesprekings was dit duidelik dat beide Botha en De la Rey ten gunste van vrede was. De Wet het geteken. Sommige bronne wil dit hê dat generaal Jan Smuts ook nog ‘n rol gespeel het om De Wet te oortuig.

Met die besluit van Botha en Smuts om tot die Eerste Wêreld-oorlog toe te tree as bondgenoot van Engeland, het De la Rey beswaar aangeteken en Botha aan hulle ooreenkoms by Vereeniging herinner. Dit het op dowe ore geval.

Generaal Jan Smuts was die minister van verdediging en getroue bondgenoot van Botha. Die hoof van die weermag was generaal Chrisjan Beyers, ’n oud-Boere­generaal wat onmiddelik met die oorlogsverklaring teen Engeland bedank het. Dit word beweer dat Smuts nie veel ooghare vir Beyers gehad het nie.

De la Rey het sy voorneme aan generaal Kemp verklaar om die Vryheid terug te gryp en generaal Botha tot president te verklaar. Kemp, toe nog ’n weermag-offisier het dit aan die regering oorgedra. Hy sou later self rebelleer.

De la Rey en Beyers was albei blootgestel aan agtervolging deur die polisie. Op die aand van 15 September met die vertrek van die generaals uit Pretoria na Potchefstroom, het die motorbestuurder aan hulle gerapporteer dat ‘n persoon op ‘n trapfiets by die motor was en die nommer afgeskryf het.

Onderweg na Johannesburg het die twee generaals sitplekke omgeruil omdat De la Rey ‘n pyproker was en wou keer dat die rook in Beyers se gesig in waai. Dit was ‘n fatale skuif en het generaal De la Rey ‘n doodskoot gekry uit ‘n polisieman se vuurwapen. Die bewering was dat die polisie ‘n padblokkade opgestel het vir die Forster-bende en dat die koeël eintlik vir generaal Beyers bedoel was.

Dieselfde aand is dr Gerald Grace ook deur die polisie doodgeskiet. Dit word beweer dat die dokter baie na generaal Beyers gelyk het.

Dit blyk dat generaal De la Rey se vriend en vertroueling, die Siener van Rensburg ‘n gesig gehad het met die syfer 15 in die lug en dat hy die generaal se dood voorspel het en aan generaal De la Rey  dit so oorgedra het. Die generaal het egter geglo dat dit gegaan het oor die beoogde aksie waarin hy ‘n rol sou speel.

Hierdie geliefde Boere-generaal se dood sou ‘n verdere nadraai hê. Kort na sy dood sou generaal Beyers ‘n waterdood sterf in die Vaalrivier toe hy van regeringstroepe wat op hom geskiet het, probeer wegkom het; generaal De Wet is met motorkarre  gejag, gearresteer en in ‘n kampong besmet met luise aangehou; Kemp en Maritz het landuit gevlug; Jopie Fourie is op ‘n Sondagmôre by die Sentrale Gevangenis tereggestel.

Botha en Smuts het voortgegaan om Duits-wes binne te val en aan die kant van Engeland te veg. Die rebellie het doodgeloop en bittere verdeeldheid het deel van ons bestaan geword. Vandag, egter klink daar weer ‘n versugting op:

“De la Rey, De la Rey...
sal jy die Boere kom lei.”

 

Opgestel en uitgegee deur Piet Rudolph namens die Aksiekomitee Orde Boerevolk.
E-pos: piet.rudolph@gmail.com
14 September 2010

==========================================

This article must be translate and publish also in English. Who wants to translate it in English please contact the editor: volkstaat@volkstaat.it