U radiorede Maandagaand 11 Oktober 2010 - Piet Rudolph PDF Afdruk E-pos
Dinsdag, 12 Oktober 2010 11:54

Mnr Clem de Klerk
Radio Pretoria

11 Oktober 2010

Geagte mnr De Klerk

 

U radiorede Maandagaand 11 Oktober 2010

Boerestaat

Ek het met groot aandag na u geluister en omdat ek weet dat u selektief na luisteraars luister en die gevaar loop dat u my nie sal hoor nie. Nogtans voel ek dat ek my plig sal versaak as ek nie ‘n paar van u uitgesproke standpunte sou aanspreek nie.

Ek doen dit met huiwering omdat daar in Suid-Afrika ‘n persepsie deur die partypolitici geskep is dat as jy van siening verskil, jy ‘n jukskeibreker is. Omdat u egter die heil van ons volk soek, gaan ek met u baie reguit wees.

Ek merk die afgelope tyd dat as u van die volk praat dan praat u van Boere-Afrikaner en u doen dit om Boere en Afrikaners te akkomodeer omdat u om een of ander oorweging nie Boere alleen wil erken nie. Seker maar omdat u daarmee poog om harmonie te skep of die getalle te vergroot!

Dit kan egter nie anders gesien word nie as dat u wydsbeen probeer loop om in albei kampe te trap. Dit gaan nie werk nie en u gaan die een wees wat uself gaan beseer. Ek daag u vriendelik uit om vir ons die wetenskaplike of historiese bewyse te bring dat daar ooit in ons volkslewe iets bestaan het soos ‘n Boere-Afrikaner. Boere-Afrikaner is ‘n tweekoppige Siamese monster met een lyf wat as een kop of die lyf  beskadig word dit die gevaar loop dat al twee koppe kan doodgaan!

Maar ek wil dit onomwonde vir u stel dat Radio Pretoria in hierdie opsig nie eerlik is met sy lusteraars nie. U praat darem nog van Boere-Afrikaner maar net na u was daar ‘n program oor die ekonomie waar dit links en regs gegaan het oor die Afrikaner. Twee geleerde professore wat gereeld oor Radio Pretoria oor die volk praat, praat net van Afrikaners en weinig kere sal hulle die woord Boer gebruik. Ek het al gehoor dat in een uitsending van professor Pont hy amper 50 keer die woord Afrikaner gebruik en twee keer Boer. Die here ge­bruik nie die woord Boere-Afrikaner nie omdat hulle weet dit nie bestaan nie.

U het ook verwys na mense wat net praat van Boer asof dit verkeerd sou wees. Ons Boere het nie ‘n geveg met mense wat Afrikaners wil wees nie. Ons het ‘n geveg met mense wat die geskiedenis wil verdraai om ‘n paar puntjies aan te teken en iets daarmee te bereik. Dit is ongelukkig so dat baie Afrikaners as gevolg van herkoms en die verlede, nie Boere kan of wil wees nie.

Vir ons Boere is die probleem dat Afrikaners van ver links tot verregs hulle beroep op Afrikanerskap en niemand weet wie wat verteenwoordig nie. Dit is nie die posisie met die Boerevolk nie.

U en ek wil vryheid hê maar ek eis as ons ‘n afgewaterde saak êrens op die tafel moet plaas wat berus op skewe feite. Afrikaners kan hulle net beroep op die herstel van die 1961-1994 RSA en op niks anders nie. Hulle kan tog nie vryheid eis op grond daarvan dat hulle wit is nie. Daarenteen kan ons Boere ons Republieke terug eis. Maar u weet so goed soos ek dat daar nie ‘n volk kan bestaan sonder ‘n grondgebied van sy eie nie. Daarom kan daar nie ‘n Afrikanervolk voor 1961 gewees het nie.

Miskien moet u meer begrip toon vir die feit dat u met u lisensie-geveg, nie reg sou gekom het met die benaming Afrikananers alleen nie want die beskrywing Boer het aan u groepbeskrywing ‘n ander dimensie gegee, selfs in die oë van hierdie infame regering.

Soos in die geval van die Nasionale Party het u reeds die stelsel vervolmaak om kritiek dood te swyg in die waan dat dit sal verbygaan. Om daardie rede sal ek verplig wees om my skrywe aan u wyer bekend te stel, nie om te twis nie maar terwille van die waarheid.

Die uwe

 

Piet Rudolph
Voorsitter Aksiekomitee Orde Boerevolk
E-pos: piet.rudolph@gmail.com