Dag van Trou 13 Nov 2010, Balmoral. Deur Zita Goldswain PDF Afdruk E-pos
Dinsdag, 16 November 2010 17:21

Net ‘n stille getuienis

Deur Zita Goldswain

Balmoral, 13 November 2010Balmoral, met sy Volksmuseum en kerkhof is ? hartseer getuienis van die wreedheid van die oorlog.
Wat nog meer hartseer is, is die feit dat die wit kindergrafte wat in netjiese rye in die kerkhof staan, bitter min betekenis oorgehou het.
Toe die kersies op die grafte Saterdagaand 13 November aangesteek is, was daar ‘n somber, amper spookagtige gevoel wat in die kerkhof geheers het. Dit was asof die kindertjies uit die grafies gesmeek het om nie vergeet te word nie.
Sondag het die uitgebrande kersies netjies in ‘n ry so half aan ‘n persoon se gewete geraak. Hulle wil nie vergeet word nie en tog was daar net ‘n handjievol mense wat die Dag van Trou op Balmoral Saterdag kom herdenk het.
Die bloekombome wat sorg vir skaduwees op die grafte, se gesuis was oorverdowend hoorbaar en terwyl die ou Suid-Afrikaanse vlag mooi afgeëts teen die Hoëveld se blou lug gewapper het, het die jong Petrus Visser ‘n krans aan die voet van die gedenknaald gaan neersit.
Op die gedenknaald is die name van die gestorwenes gegraveer. Name van onbekendes, maar dit is die name van die vroue en kinders wat die hoogste offer betaal het vir die vryheid waarvoor die boere in die 1900‘s geveg het.
Gedurende die Anglo Boereoorlog, op 16 Junie 1900 het Lord Frederick Sleigh Roberts proklamasie vyf van 1900 uitgereik, waarvolgens die Britte enige Boere wat weerstand bied se huis moes brand en hul vroue en kinders as krygsgevangenes na kampe geneem moes word.
Deur die duur van die oorlog het altesaam 22 000 kinders en 6 000 vrouens met hul lewens in sulke kampe geboet.
Minstens 400 van hulle het in die konsentrasiekamp op Balmoral gesterf
Die konsentrasiekampe was by Irene, Barberton, Volksrust, Belfast, Klerksdorp, Pietersburg, Potchefstroom, Vereeniging, Turffontein, Balmoral, Nylstroom, Standerton, Heilbron, Kimberley, Bloemfontein, Middelburg, Kroonstad, Heidelberg, Krugersdorp, Vryburg, Vredefort, Brandfort, Springfontein, Bethulie, Norvalspont, Port Elizabeth, Aliwal-Noord, Merebank, Pinetown, Howick en Pietermaritzburg.
Hierdie is deel van ons geskiedenis, deel van wie en wat ons is vandag, tog is dit net wit grafte onder die skadu’s van die ou bloekombome wat vir ons vandag min betekenis dra.