Steyn van Ronge, AWB-leier Afdruk
Woensdag, 06 Julie 2011 08:41

Volksblad, 2010-06-15

Steyn van Ronge

Nuwe AWB-leier verduidelik die pad vorentoe

Pieter Steyn

DIE groot man is net so bonkig soos die hoekpaal van sy Suidoos-Vrystaatse plaas waarteen hy leun as hy skrefiesoog in die rigting van die Oranjerivier en die Malutiberge kyk.

Oorkant lê die Transkei. Verder links Lesotho. “Ja,” sug hy, “boerdery hier is nie maklik nie.”

Die afgelope tien jaar het hy hier sowat 3 000 skape weens diefstal verloor. “Genoeg vir twee boerderye.”
Maar Steyn van Ronge is die derde geslag van die familie Van Ronge op Nooitgedacht, anderkant Zastron, waar hulle al sedert 1930 boer. Onderkry is min.

Hy volhard met beesboerdery. Sy Brafords is na aan sy hart. Hy is ook jagter, rugbyliefhebber, gesinsman en... leier van die AWB.

Van Ronge is die man wat deur wyle mnr. Eugene Terre’Blanche in ’n getekende brief in Maart vanjaar aangewys is as sy opvolger as AWB-leier vir die dag wanneer hy nie meer daar is nie. Min het Terre’Blanche – en Van Ronge – geweet hoe gou dit sou kom.

Van ’n leiersdispuut in die AWB ná Terre’Blanche se dood het min gekom. Mnr. André Visagie, sekretaris-generaal, is vort uit die beweging en Van Ronge nou die onbetwiste leier.

Van Ronge (55) is ’n gryskopman met ’n paar fris boerehande. Om sy regterpols is ’n koper-armbandjie soos dié wat mense dra om artritis te keer.

Eugene, soos hy na sy vermoorde voorganger verwys, was ’n man so na sy hart. Hul vriendskap het die AWB oorspan. “Hy het gesê ek is soos ’n broer vir hom.”

Die kleurvolle en omstrede Terre’Blanche het nóg ’n slagoffer van Afrika geword. Eensklaps moes Van Ronge, ’n boorling van Zastron (waar hy ook op skool was) die AWB-leisels oorneem.

Volgens Van Ronge besef hy terdeë dat niemand Terre’Blanche se plek sal kan vol staan nie. Hy gaan dit ook nie probeer doen nie.

“Ek het my eie karakter en styl. Ek is ’n ou vir deelnemende bestuur, maar besef daar sal tye kom wat ek standpunt sal moet inneem.”

Eerder as Terre’Blanche se opvolger, beskou hy homself as ’n instrument van God vir dié gedugte taak wat wag.
Maklik gaan dit nie altyd wees nie. Kort ná sy aanwysing as AWB-leier het hy reeds doodsdreigemente gekry, sê Van Ronge.

“Dit vat maar aan ’n ou. ’n Mens is op jou senuwees, maar dit lei ook daartoe dat jy meer paraat is en jou persoonlike sekuriteit opskerp.”

In Van Ronge se studeerkamer in die sandsteenplaashuis is jagtrofeë, ’n petversameling, ’n faksmasjien en ’n Vodacom-aandenking van die ondersteunerstoer na Australië en Nieu-Seeland wat hy en sy seun Ollie meegemaak het. (Ollie het die toer as prys gewen.)

Maar niks AWB-kentekens of -aandenkings nie. Van Ronge beduie dat hy sy persoonlike lewe en AWB-bedrywighede skei.
As hy oor die AWB, die “Geloftevolk”, selfbeskikking, etnisiteit, volke-verskeidenheid en plaasaanvalle praat, raak hy driftig. Soms klink hy byna soos Terre’Blanche.

Van Ronge (eens die eg Duitse Von Ronge) is uitgesproke trots op sy Ariese afkoms.“ ’n Zoeloe is trots daarop dat hy ’n Zoeloe is. Moet ek skaam wees omdat ek blank is?”

Daar moet onderskei word tussen rasse, nasies en volkere, sê hy.

Ingevolge dié onderskeid het ras te doen met velkleur, of ’n mens wit of swart is; nasies sluit etniese groepe soos Xhosas, Franse en Engelse in. ’n Volk is ’n samehorige groep met ’n versugting na selfbeskikking en ’n eie kultuur, godsdiens en ’n grondgebied.

Só is die Boervolk, volgens hom, die Geloftevolk. “Dit sluit nie alle blankes in nie, maar diegene met die versugting om oor hulself te kan beskik.”

Hy beaam dat ’n klemskuif in die AWB se aanslag wel plaasgevind het, maar dat besluite wel nog geskoei sal word op beginsels wat Terre’Blanche neergelê het.

Hy gee toe die AWB is deesdae meer gematig. “Ja, ons wil vrede hê. ’n Ou wat praat van oorlog, weet nie waarvan hy praat nie. Vir eers moet ons al die meganismes gebruik wat voorsiening maak vir selfbeskikking, soos dit ook in die Grondwet uitgestippel word.”

Die klemskuif spruit daaruit dat die “konteks” ook verander het. Die AWB het in 1973 onstaan uit verset daarteen dat die destydse regering die land in swart hande wou oorgee.

“Die NP het nooit die land weggegee nie. F.W. de Klerk het deur slim en gemene politieke politiek en praatjies oor eie skole en so aan die kiesers sover gekry om die land weg te gee. Daarteen het die AWB weerstand gebied.”

Nou het die konteks weer verander, maar die AWB het steeds beslis nog bestaansreg, sê hy.

Die AWB streef selfbeskikking vir blankes na, maar die veiligheid van die Boervolk is nou ’n hooffokus. Maar Van Ronge se aandrang is ook vir erns met geloof.

“Die Geloftevolk moet hulle verootmoedig voor God. Blankes moet terugkeer na God en Sy gebod. Die AWB is nie ’n kerkorganisasie nie en ons kan God nie misbruik om ons doelwitte te bereik nie, maar ’n volk moet sy geloftes betaal aan God.”
Die AWB gaan voortaan “weldeurdagte, realistiese en geloofwaardige” besluite neem.

“Ons bedryf ’n volk se saak. Die AWB is ondergeskik aan die saak. Ek is ondergeskik aan die AWB.”

Van Ronge meen die moord op Terre’Blanche het ’n “soort psigose van vrees” onder blankes ontketen. Die wreedheid was nie erger as in ander plaasmoorde nie, maar dié moord het “blankes wakker gemaak”.

Hy kry oproepe van voornemende nuwe lede van die Wes-Kaap tot Limpopo en van die Weskus tot Durban. Die geletterdheidspeil van aansoekers is aansienlik hoër as in die verlede. Tot akademici doen aansoek.

Die AWB-hoofkantoor bly op Ventersdorp waar mev. Martie Terre’Blanche die “hartklop” van die kantoor en personeel bly.
Van Ronge weier volstrek om die AWB se ledetal te verklap.

As ’n AWB-lid moes hy seker al baie hoor dat hy ’n rassis is? “Volgens my definisie is ’n rassis iemand wat niks met iemand van ’n ander ras te doen wil hê nie. Ek is nie so nie.

“Ons moet mekaar respekteer. Hier is plaaswerkers wat saam met my grootgeword het. As ek iets van hom benodig, vra ek hom en as hy iets van my benodig, vra hy my. Dit beteken nie ons moet om ’n tafel sit en kuier nie.”

Hy glimlag ook as hy onthou hoe sy een buurman, mnr. Otto Mbangula, hom met sy AWB-leierskap gelukgewens het. Otto is ’n leiersfiguur in die National African Farmers’ Union (Nafu).

“Hy is deel van die gemeenskap waarin ek my bevind.

Ek het destyds vir die minister van veiligheid en sekuriteit (mnr. Nathi Mthethwa) gesê: “Ons kan mekaar nie wegwens nie. Suid-Afrika is waar hy is te danke aan blanke kapitaal en planne en swartes se arbeid.”

Van Ronge is nog rou oor Terre’Blanche se dood. Dáárdie Paasnaweek-Saterdagaand was hy en sy vrou, Cornelia, op ’n vleisbraaiery op ’n buurplaas.

“Hier by ons op die plaas, is dit mos nog die ‘Nommer asseblief’-stelsel. Ek het by die bure ons lui gehoor en geantwoord. Dit was iemand wat by die media gehoor het Eugene is vermoor. Ek het dit nie geglo nie.

“Oomblike later het Bea (Terre’Blanche se dogter) gebel en dit bevestig. Ek was geskok, teleurgesteld en met afgryse vervul.”
Hy onthou Terre’Blanche as “ ’n kultuur-ikon, ’n dinamiese mense-mens met ’n visie vir sy volk en iemand wat die toekoms kon ‘voorspel’?”.

Hy ontken ook nie dat Terre’Blanche met verwysing na die destydse teer-en-veerdery van wyle prof. Floors van Jaarsveld, die sogenaamde Slag van Ventersdorp, en ander gebeure, omstrede was nie. Ja, ook die Jani Allan-sage.

Van Jaarsveld se sonde was dat hy die Gelofte misken het “waarvoor die AWB en die blanke volk steeds staan”.

Op ’n vraag oor Terre’Blanche se omstrede persoonlike lewe, sê Van Ronge: “Die karaktermoord wat nou op hom gepleeg word, is hartseer. Die bewerings oor seks met die jong plaaswerker en met die jong AWB-lid is ontstellend. Die polisie het dit reeds ontken.

“Die media en ander het destyds dieselfde truuk met Jani Allan op hom getrek om hom in onguns te bring.” Nog ’n saak waarvoor Van Ronge hom as AWB-leier beywer, is herskikking van die staatkundige model.

Maar vir ’n volkstaat sien hy nie kans nie. “Wie se volkstaat? Carel Boshoff s’n?” vra hy.

“Nee. As jy grense trek, sluit jy mense wat buite daardie grense is, uit. Volgens die Grondwet behoort die land aan sy mense.
“Wie gaan sy plaas, sy lewe opgee en trek. As die ‘Volkstaat’ in die Vrystaat is, kan ’n mens mos nie verwag ’n boer van Limpopo of Wes-Kaap moet Vrystaat toe trek nie.”

Van sóóntoe trek en sonder arbeid weer voor begin, weet hy nie.

Hy was al een keer, kort voor Terre’Blanche se dood, op Orania. “Daar is ander opsies wat ’n mens kan oorweeg. Ek’s nie bang vir werk nie, maar op my ouderdom wil ek nie ’n pionier wees nie. Dis vir jonger ouens wat hulself wil opwerk. Ek’s ’n gevestigde boer.”

Van Ronge het op die nasionale AWB-konferensie aangekondig dat dié beweging ’n sekuriteitsmaatskappy gaan stig om lede op te lei om meer paraat te wees.

“Die room van diegene wat ons oplei, sal sekuriteitswagte word.”

Die Ystergarde, gewapende vleuel van die AWB, sal help met die opleiding. Die diens gaan nie eksklusief vir lede wees nie, maar op ’n konsessie-grondslag bedryf word.

Dit gaan ’n volledige veiligheidsdiens wees, handeldrywend onder die naam “Wenkommando’s”, met wagte, alarmstelsels en gewapende reaksie-voertuie.

Van Ronge beoog om ’n adviesraad saam te stel bestaande uit nie-AWB-lede. “Dit moet ’n liggaam wees buite die generale staf. Dit gaan glad nie AWB-lede wees nie.”

Die generale staf bestaan onder andere uit gebiedsleiers soos die aanvoerder van die Ystergarde (mnr. Nico Prinsloo, ’n boer tussen Potchefstroom en Krugersdorp) en die Rooivalke-vrouvleuel se hoof (me. Ansie Cruywagen van Pretoria).

Van Ronge hou nie van egoïstiese mense nie. “Ek het ’n groot probleem met daardié ‘eie ek’. As die lede vandag vir my sê daar’s ’n beter ou om die beweging te lei, loop ek dadelik.”

Van Ronge het die graad B.Com. aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf.

Hy en Cornelia het drie kinders. Die oudste, Heloise, is ’n trauma-dokter in Port Elizabeth. Die tweeling, Ollie en Cindy, is albei in Bloemfontein. Ollie het B.Rek. gestudeer en verrig sy klerkskap by ’n ouditeursfirma. Cindy het B.Com. LL.B. gestudeer en verrig nou haar klerkskap by ’n prokureursfirma.