Die voortgesette verraad van FW de Klerk - Piet Rudolph Afdruk
Dinsdag, 01 Februarie 2011 22:47

Die voortgesette verraad van FW de Klerk

F.W. de Klerk‘n Kenmerk van die verraad van FW de Klerk, is dat dit na al die jare nog steeds ten hemele stink die oomblik as hy sy mond oopmaak om dit te probeer goedpraat. Dieselfde as die rou-riool wat deur die onbekwaamheid van die ANC regering deur baie strate in hierdie land, in waterstrome invloei. De Klerk, met sy verraad, het die ANC gehelp om aan bewind te kom. Die feit dat ons in Dingesstraat sit is net so te wyte aan sy verraad as die ANC se vlugvoetige onbekwaamheid om hierdie land te regeer. Die enigste sin wat uit hierdie konkoksie gekom het is dat die ANC se regstellende aksie, hom sy joppie gekos het.

Op 2 Februarie – more – sal dit reeds 21 jaar gelede wees dat De Klerk as leier van die Nasionale Party en leier van die regering besluit het om handdoek in te gooi. Hy en sy trawante gaan dit herdenk met ‘n byeenkoms in Kaapstad. Sal daar maar iets op sy byeenkoms gebeur om die aard en omvang van sy verraad, na hom toe te laat deurdring.

De Klerk en ene Alan Boesak was vanoggend gespreksgenote op die radioprogram – Praat saam – van RSG oftewel His Master’s Voice. Ooglopend om voorbrand te maak vir sy gemors, môre, in Kaapstad.

Daarin het De Klerk probeer verduidelik dat hy nie net Afrikaner is nie maar ook Suid-Afrikaner en Afrikaan, wat dit ookal mag beteken. Voorts het hy sy lofuitinge gehad vir die bykans 70% van die kiesers wat JA gestem het en wat die verandering te weeg gebring het.

Ook die kloekmoedigheid van Boesak het nie uitgebly nie. Op ‘n vraag van ‘n Kleur­ling­luisteraar wat gekla het oor die afskeping van die Kleurlinge en hulle gevaar om te ver­dwyn, het Boesak die luisteraar verseker dat die Kleurlinge se getalle sal groei om­dat hy baie meer gemengde paartjies sien en by implikasie dan die versterking van die kleurlinge deur hulle gemengde kinders. Daaroor het De Klerk geen kom­mentaar ge­had nie!

Die dapper radiostasie se modus operandi is natuurlik om alle oproepe te monitor en enige oproeper wat nie “saampraat nie,” van die lug te weer.

Mag daar vannag en môre soveel gebede opgaan dat daardie verraderlike same­dromming van volksverraaiers tot mislukking gedoem sal wees. Vader, help ons!

Opgestel en uitgegee deur Piet Rudolph namens die Aksiekomitee, Orde Boerevolk.
E-pos: piet.rudolph@gmail.com