Boere-vryheidstryders of Afrikaner-rebelle? - Piet Rudolph Afdruk
Woensdag, 24 September 2014 10:00

 

BOERE-VRYHEIDSTRYDERS OF AFRIKANER-REBELLE.

Jopie Fourie

Die doelwit agter genl. Koos de la Rey se opstand was dat hy as Boere-generaal saam met ander Boere-generaals met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, die Vryheid van die Boere-republieke wou herstel.
Dit was die uitvloeisel uit ’n versekering van genl. Louis Botha aan De la Rey, De Wet en andere dat hulle vrede by Vereeniging moes verklaar in 1902, maar as Engeland weer in die moeilikheid sou raak, die Boere die Vryheid moes terugvat.
Daarom het De la Rey reeds in Augustus 1914, sewe dae na die oorlogsverklaring, by Coligny ’n openbare vergadering onder die Vierkleur belê. Hy het sy oud-makkers aangemoedig om hulle gewere en ammunisie saam te bring.
Van Treurfontein (nou Coligny) sou hulle na Potch en Krugersdorp gaan waar die Vierkleur gehys sou word en Louis Botha op die skouers die nuwe herstelde republiek ingedra sou word as die President. Daarvoor het Botha nie kans gesien nie
’n Maand later is genl. De la Rey doodgeskiet!
Daar was sekerlik ook protes teen die gebruik van Suid-Afrikaanse troepe om terwille van Engeland, Duits-Wes binne te val. Dit was egter nie De la Rey se beweegrede tot opstand nie. Dit maak dus ’n mite daarvan dat sy rebellie n Afrikaner-rebellie was!
Sekerlik kon dit ’n rebellie teen die Afrikaner- regering van Louis Botha gewees het wat na Uniewording in 1910, kliphard gestrewe het na politieke Afrikaner-eenheid met die oog op verkiesingsuitslae. As dit bedoel word dat die vryheidsopstand in daardie sin, ’n rebellie geword het teen die Afrikaner-regering wat nie die Vryheid wou hê nie, sal dit eerder nader aan die waarheid wees!
Wat soos ’n paal bo water staan is dat die Afrikaner-regering van Botha en Smuts, Boere-Rebelle doodgeskiet en in die tronke gestop het en daarna nog teen hulle gediskrimineer het. So kon genl. De Wet in 1919 nie reisdokumente kry om saam met genl. Hertzog, by Versailles te gaan pleit vir die herstel van die onafhanklikheid van Transvaal en die Vrystaat nie.
Die aksie uit Afrikaner-geledere dat die 1914-opstand dus ’n Afrikaner-rebellie van Afrikaners was, is feitlik nie korrek nie en ’n verdraaiing van die geskiedenis!
Boere het die reg om hieroor warm onder die kraag te raak!

Piet Rudolph namens Boer-Republikeine.
072 419 3516.